Posted on 06 September 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Dianne Coetzee

 

Die dames van Robertson tak het 'n heerlike kuieroggend geniet saam met Fran Lombard. Sy het kom vertel wat 'n vrou moet weet oor die maak en smaak van parfuum.

 

Fran was al op ‘n kursus in Frankryk, waar sy die fynere kunsies van parfumerie geleer het en geleentheid gehad het om verskillende parfuumvervaardigers te besoek.

 

'n Geur word saamgestel uit drie dele die kop, die hart en die basis. Die kop is die eerste geur in die bottel; die eerste indruk wat jy van die geur kry wanneer jy die bottel oopmaak en die parfuum aantik. Dit ruik gewoonlik na blomme. Dit hou net 'n paar sekondes en is vermeng met die geur van verdampende alkohol. Die hart is die geur wat onmiddellik volg. Dit talm langer op die vel en is dikwels hout- of speseryagtig. Die basis is die kerngedeelte, die ware wese van die parfuum wat ure sal hou. Dit is soos wat die parfuum uiteindelik sal ruik. Dit bestaan gewoonlik uit sintetiese en dierlike stowwe en gee die parfuum sy eiesoortige geur.

 

Sy vertel die lede van generiese parfuum wat op die mark beskikbaar is en stel dit aan die lede bekend. Sy verduidelik ook hoekom generiese parfuum nie in oorspronklike bottels - of parfuumbottels wat soos die oorspronklike lyk, m.b.t. die kleur van die glas of plakker - mag verpak word nie. Na haar baie leersame praatjie het die dames tou gestaan om iets nuuts op die vel gesproei te kry - veral die soorte parfuum wat nie aldag bekostigbaar is nie.
 

Na die opgewondenheid ‘n bietjie gesak het, het almal lekker saam gekuier op die koel oggend met heerlike sop en tuisgebakte brood vir middagete.
 

Fran Lombard met 'n uitstalling van generiese parfuum.

 

 

Lede smul heerlik aan die tuisgemaakte sop en brood.

 

Comments are closed

Categories