Posted on
11 September 2011
Portefeulje: Kuns en Handvlyt
Beriggewer: Annalise Loubser
Datum: 6 September 2011
VLV Slot van die Paarl het onlangs, tydens ‘n Kuns en Handvlyt vergadering, gekyk en geluister hoe Chantelle Swanepoel smeltsjokolade inspan om kunswerke te maak.
1. Koop die beste kwaliteit kooksjokolade by bakwinkels; dit smaak baie beter en die sjokolade bevat minder vet.
2. Gebruik plastiekvorms (ook te kry by bakwinkels). Moenie die vorms was of smeer nie; sjokolades se glans verdwyn. Dit sal nie vassit in die vorm nie. Vee die vorm uit met ‘n droë lap om te bêre.
3. Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond. Roer gereeld; wees versigtig om nie te oorverhit nie.
4. Gebruik verskillende vorms om individuele klein sjokolades te maak; die vrieskas se ysblokkiehouers werk ook.
5. Skep die gesmelte sjokolade in die vorms en sprinkel dan enige van die volgende oor: klapperskaafsels, gekapte pistasieneute (pistachio), gedroogde bosbessies (cranberry), pampoenpitte, sonneblompitte, gedroogde mango, ens. Laat dit stol in die koelkas en draai individueel toe in gekleurde foeliepapier.
6. Om ‘n hol paaseier te maak, word die sjokolade in die eiervorm geskep en die vorm word dan rondgedraai sodat die sjokolade die kante oral bedek. Sit dit vir ‘n paar sekondes in die vrieskas, draai dit weer sodat die sjokoladevorm oral ewe dik is. So ‘n halwe eier kan gevul word met tuisgemaakte klein sjokolades binne-in.
LNR Bokka Wagenaar (Voorsitter), die Kuns en Handvlyt komitee nl. Elsabé Toua, Alice Swanepoel en Salomé du Toit (by wie se huis die demonstrasie gehou is) met Chantelle Swanepoel in die middel.
