Posted on 14 September 2011

PORTEFEULJE: Landbou & Tuinbou
BERIGGEWER: Lorraine du Toit
DATUM: 6 September 2011


Tydens die onlangse vergadering van Bredasdorp VLV het Ettienne Kriel van Napier (eienaars van Moerse Pies) vir die dames vertel hoe hulle sade kan saai op ‘n eenvoudige manier deur “Palm Peet” te gebruik.  Hy gee verskeie wenke wat die saai van sade kan vergemaklik en noem dat daar gewoonlik 3 redes is waarom saad nie opkom nie:

1.  Die saad is oud;
2.  Die saad het nat ontkiem en toe droog geword. Hou altyd die saadjies klam; en/of
3.  Saad word te diep gesaai.

 

Die saad van Clivias en ook Agapanthus kan ontkiem word deur dit in ‘n bakkie met kraanwater te gooi.  Wanneer die worteltjie en eerste blaartjies gevorm het, druk jy dit eenvoudig in die grond.

 

Mev Desiree Kingwill, boervrou van Riviersonderend en kaasmaker van formaat, het die dames meer vertel van al die wonderlike kase wat sy maak. Op die koop toe en sy sommer ook gewys wat sy doen deur die hele proses in stappe te demonstreer. Gepasteuriseerde melk vat die smaak weg. Hulle hou die kieme weg deur dit te beperk tot slegs enkele mense wat met die proses werk. Kaas kan gestoor word by 14°C en hoef nie in ‘n yskas gebêre te word nie, veral nie in die winter nie. Gedurende die somer kan die kaas maar in ‘n yskas gestoor word, want ons somers is te warm. Haar kleurvolle kase is te kry by die naweekmark in Greyton, asook by Dassiesfontein. 

 

Tydens die vergadering is die trofeë wat op die onlangse VLVK Kongres te Villiersdorp verower is, ook uitgedeel. Hetta Bezuidenhout, moeder van die voorsitter, het die oorhandiging gedoen. Tydens kongres het Bredasdorp tak die trofee ontvang vir die 2de meeste punte behaal en hierdie trofee is oorhandig aan Lettie de Bruin wat 3 artikels op kongres verteenwoordig het. Die weefwerk van Marie Spamer het eerste prys ontvang met 85% en ‘n trofee word aan haar oorhandig terwyl die hekelwerk van Lorraine du Toit ‘n tweede prys ontvang met 84% vir haar gehekelde aandsakkie. ‘n Trofee word ook aan haar oorhandig.

 

Daar word ook bestuursverkiesing gehou en Ina Odendaal, Ann Gunning en Marlene le Roux word vir ‘n termyn van 2 jaar verkies. Marie Spamer word weer herkies as Visevoorsitter en Jossie Swart vir ‘n nuwe termyn as Sekretaresse. Die lede word gelukgewens en bedank vir hulle bereidwilligheid om op die bestuur te dien.

 

 

Lorraine du Toit ontvang die trofee vir ‘n tweede plek vir Hekelwerk van haar moeder, Hetta Bezuidenhout.

 

 

Van die kleurvolle kase van Desiree Kingwill.

 

 

Ontvangers van kongres-trofeë  -  Lorraine du Toit (Voorsitter), Hetta Bezuidenhout (oorhandiging van trofeë), Ann Gunning, Lettie de Bruin en Marie Spamer.

Comments are closed

Categories