Posted on 19 September 2011

Beriggewer: Rina Coreejes

 

Elke jaar koop ons loslitkaartjies en die eerste byeenkoms in September doen ons iets spesiaals om dié dag aan die gestremdes in ons gemeenskap te dink. 

 

Hierdie jaar het elke dame met ‘n kierie van die een of ander aard opgedaag. Wat baie spesiaal was, was dat sommige van die kieries ‘n storie gehad het en die eienaars het dit met ons gedeel. 

 

Een van die kieries het ‘n fietsklokkie (om die leeus in die veld mee weg te jaag), ‘n klein botteltjie drank (om moed te kry om teen ‘n renoster te baklei), ‘n flitsliggie (om vir hulp te sein) en ‘n tregter met ‘n pypie aan wat tot by die grond strek (sodat, as jy ‘n man is, jy nie in die nag by die tent hoef uit te gaan as jy ‘n draaitjie moet loop nie). ‘n Ander een se handvatsel is, as jy dit afdraai, ‘n sweep. ‘n Oulike een het in ‘n stoel verander waarop jy in die veld kan sit. Dan was daar mooi uitgekerfde kieries, moderne kieries, ‘n bamboes een met ‘n stinkhoutknop en selfs ‘n kruk en ‘n loopraam met wieletjies!

 

Die lede is op ‘n toer deur die besigheid geneem en baie van die lede wat nog nooit daar was nie is aangenaam verras deur alles wat die verwerking van velle en huide behels. Bokke, veral springbokke, se velle word gereed gekry om versend te word om gebrei te word. Van die velle word ook by die leerlooiery gekleur in al die kleure van die reënboog. Daarna kom dit terug en hier word die hele vel, op die perseel verwerk in allerhande nuttige gebruiksartikels soos byvoorbeeld die mooiste onderbaadjies, kussings, plekmatjies, boekoortreksels, waterbottelsakkies en boekmerke. Dit is die ideale plek om daardie spesiale geskenk vir iemand te gaan koop.

 

Die lede was sprakeloos toe Sanet begin het om die Nguni velle wat sy gereed gemaak het vir die fees op Upington later die maand, voor die lede oop te gooi.

 

Om die middag af te sluit en vir boomplantdag, het ons twee stinkhoutbome op die terrein van Huide en Velle geplant. Millicent Venter het die twee bome geskenk en Sanet was so gaaf om die gate gereed te hê vir die okkasie. Ons hoop die bome gaan mooi groot word en jare lank skaduwee gee op die perseel.

 

 

Sanet de Villiers, Patty van Heerden, Alma v d Berg en Erika Williams in die afdeling waar skaapwol geklas en gebaal word.

 

 

VLV-lede bewonder die pragtige Nguni velle.

 

 

VLV-lede met hulle kieries.

Comments are closed

Categories