Posted on
20 September 2011
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Saamroeper: Lourine Nel
Datum: 16 September 2011
Beriggewer: Janine Brynard
Ons vergeet dikwels dat ons troeteldiere ook kan siek raak en dat hulle dan ook goor voel. Gelukkig hoef ons hulle nie aan hul eie lot oor te laat nie en is daar baie wat ons kan doen om selfs te verhoed dat hulle ernstig siek raak.
Dr Dirk van der Merwe, wat saam met dr Lizanne de Beer deesdae na ons diere se welstand omsien, het by Hantam VLV se Landbou en Tuinbouvergadering riglyne gegee oor jou rol as troeteldiereienaar. 'n Goeie idee is om 'n gesonde, gehalte klein hondjie te koop, nadat inligting oor die ouers ook ingewin is. Sodoende kan ingeteelde, oorgeërfde afwykings voorkom word.
'n Volledige, basiese diensskedule vanaf jou troeteldier se sesde lewensweek, wat insluit inentings teen algemene dieresiektes en hondsdolheid en ontwurming elke 3 - 6 maande, is onontbeerlik. Ektoparasiete soos bosluise en vlooie moet doeltreffend beheer word. 'n Lustelose, ooglopend siek dier kan vinnig dehidreer. Net soos met mense-kinders, moet water- en elektrolietoplossings gereeld vir 'n gedehidreerde dier ingegee word. Indien dit te ver gevorder is, moet die dier onmiddellik na 'n veearts geneem word om binne-aarse vog te kry.
'n Goed gebalanseerde dieet, bestaande hoofsaaklik uit goeie gehalte droë korrels, is die mees aanvaarbare riglyn vir troeteldiere. Beperk geblikte kos, aangesien dit nie die regte hoeveelhede dierlike proteine bevat nie. Uiters belangrik egter, is om kos dig en doeltreffend te seël om muf uit te skakel. Net 'n klein hoeveelheid gemufte kos kan 'n dier ontsettend siek en selfs dood maak, omdat die konsentrasie toksienes in die muf in dierekos baie hoër is as die gewone muf wat soms in ons eie kos intrek.
En dan bly daar dan nog net dít: wees lief vir jou dierekind, pamperlang hom en wees fyn ingestel op hom... jy sal daarvoor beloon word.