Posted on
05 October 2011
Uit die pen van Leonore Ward. . .
Claudia wéét sy vat ‘n kans toe sy haar trourok bestel. “’n Tien asseblief.” Die verkoopsdame kyk haar met een opgetrekte wenkbrou aan. “Is jy seker? Moet ons dit nie liewer ’n twaalf maak nie?” Sy kyk Claudia op en af. Dit voel asof sy dwarsdeur haar jeans die etiket agterin kan sien wat nommer sestien verkondig. “Nee. ’n Tien”, sê Claudia vasberade. “Ek gaan nie vet voor die kansel staan nie. Ek hét nog drie maande. Ek sal ’n tien wees!”.
Daarna is dit agt weke pligsgetroue, vrek-moeilike Weighless - oral waarheen sy gaan bied almal drankies en eetgoed aan ter viering van die groot dag wat nader kom. “Ágt weke Mamma! En ek’s nog net éen nommer kleiner! My rok hang teen my kas en ek pas nog nie naastenby daarin nie!”. Claudia klou die telefoon krampagtig vas en wens haar ma deur die gehoorbuis van Port Elizabeth af Kaap toe. Van jongs af droom sy oor haar slanke troudag en die wonderlike Skotse man met wie sy gaan trou. Pieter is nou wel nie Skots nie, maar het laggend ingestem om ’n kilt te dra vir die seremonie. Hy verstaan nie regtig haar fassinasie met dié kultuur nie, maar het gesê hy sal enige tyd ’n rokkie dra as dit “sy rooikop” gelukkig maak. Op die ou end was hy so meegevoer dat hy besluit het die tema vir die hele troue sal Skots wees en al die mansgaste moet rokkies dra.
Op haar troudag word Claudia bewerig wakker. “My bloedsuiker!” dink sy benoud en gryp na die bottel groen “gag” op haar bedkassie. Pieter het haar dieetmengsel een kyk gegee en dit “gag” gedoop. “Geen mens kan dit drink nie liefie!” het hy haar verseker, maar sy’t volgehou. Na haar half-histeriese oproep na haar ma het sy besluit om alles in die gewig-verloor stryd te werp. Sy’t “Spock’s Miracle Weightloss” by Dischem gekoop en dit vir vier weke aaneen vir ontbyt en middagete gedrink en net gestoomde hoender en slaai geëet vir aandete. Die kilos het weggesmelt!
“Hou in jou asem!” gil Brenda van agter haar. “Ek gaan die zip optrek!” . Hulle spook en spartel en Claudia raak eintlik duiselig in die stryd met die ritssluiter. Maar, hy’s op! Sy’s strenggesproke eerder ’n twaalf as ’n tien, maar sy’s in haar rok! Sy draai stralend na haar ma en strooimeisie. “Ek’s nie meer vet nie!” juig sy en gooi haar arms om haar ma, net om ’n aaklige skeurgeluid te hoor. Die linkernaat van haar rok het van haar bors tot onder haar heup oopgeskeur! ”Ma! My rok! My pragtige rok! Hy’s moertoe!”. Haar ma gee haar net een kyk en draai na Brenda . “Brenda, kry my man.....”
Toe Claudia ‘n uur later in die kerkpaadjie afloop is haar trane vergete. Oom Jos snak na sy asem toe sy verbygaan en mompel “So’n wulpse tentoonstelling van kaal vel! My hart sal gaan staan!”. Haar vel loer speels deur die silwer glinster van etlike kiltspelde waarmee haar ma haar rok bymekaar getrek het. Pieter lyk hoog in sy noppies.
“My rooikop Elizabeth Hurley. Wie’t nou gedink die Skotte kan so sexy raak?!” en hy soen haar vuurwarm nog voor die dominee ’n woord kan sê.
Leonore Ward, lid van Stellenberg tak, Sirkel Tygerberg het die 6de plek behaal op Kongres 2011.