Posted on 15 October 2011

Beriggewer: Martie Eloff
Datum: 15 Oktober 2011

 

Bray se VLV tak is in Oktober 1971 gestig. Die destydse Sirkelpresident, mev. Liesbeth Saaiman, het na Bray gekom en die stigtingsvergadering gelei. Persone teenwoordig was Sarie Eloff, Helmine Haasbroek, wyle Theresa Steensma, wyle Hanna Haasbroek, wyle Anna Bosman, Ria Pohlman en nog dames waarvan die name nie meer onthou kan word nie. Anna Bosman is verkies as die eerste voorsitter en Helmine Haasbroek as die sekretaresse.

 

Sarie Eloff is die enigste stigterslid wat nog ‘n lid is van Bray VLV. Sy was 10 jaar voorsitter gewees van die tak. Helmine Haasbroek was ook 'n stigterslid en is nog steeds lid van Mimosa tak.

 

Die volgende besoekers en oud-lede het die verjaarsdag bygewoon:
Tant Jossie Marais was vir 35 jaar lid, tot sy verhuis het. Tannie Joan van den Heever was 11 jaar lid. Tannie Lida Theron was 13 jaar lid op Bray en het verhuis na Tosca. Sy het die tak Tosca gestig. Die verjaarsdag is op Saterdag 15 Oktober 2011 op die plaas Marlow, ongeveer 13 km wes van Bray, gevier.

 

Oud VLV lede, hul gades en kinders het saam gekamp lang die Molopo rivier. Ronel en Alan Pickles het "draad gespring". Dit is hoe ons dit noem wanneer mense van Botswana oor die draad klim na Suid Afrika. Ronel is een van die tak se lede wat in Botswana woonagtig is. Willem Pretorius het 'n "swembad" vir die kleinspan gemaak. Dit is 'n gat in die sand met 'n groot seil in, wat vol water getap word. Later was dit 'n modderbad gewees!

 

Die speletjies het om 17h00 begin en oud en jonk moes in spanverband saamwerk. Johan Kruger het 'n skaap op die spit gebraai en daar is informeel in die rosyntjiebosskerm gekuier.  Sarie Eloff het 'n eretoekenning ontvang vir haar veertig diensjare as Bray VLV stigterslid. Helmine Haasbroek het ook 'n eretoekenning ontvang as stigterslid van Bray tak. Die volgende oggend is 'n erediens gehou in die skerm vir al die gaste en lede en so is die veertigste verjaarsdag van Bray VLV afgesluit.

 

 

LNR Adri Eloff (voorsitter), Sarie Eloff (stigterslid en nog steeds lid), Martie Eloff (lid en oudpresident van Sirkel Kalahari).

 

 

Samesyn in die rosyntjiebosskerm.

 

 

Kalahari "swembad".

 

 

Speletjies.

Comments are closed

Categories