Portefeulje: Vele
Beriggewer: Antionette van Pletzen
Jamestown tak se pas afgelope byeenkoms was 'n Potpourri van inligting en pret!
Onder die Leefstyl portefeulje is gevra waar "verkeerd eet" begin. In die kombuis word te veel suiker en te veel sout by kosse gevoeg, en blikkieskos bevat ook baie sout! "Trooskos" is ook 'n groot gevaar. Moenie 'n kind paai met lekkergoed nie, en moenie jouself vergryp aan eetgoed nie. Elkeen moet ELKE dag genoeg proteïene, stysel, koolhidrate en suiker inkry, maar in die REGTE hoeveelhede.
Daarna is 'n resep gegee vir 'n gesonde peuselhappie of granola vir ontbyt: (Lewer 1.5 liter of 7 koppies.)
1. Voorverhit die oond tot 150° C en voer 'n groot bakplaat met bakpapier uit.
2. Rooster 750ml hawermout vir ± 10 min in die oond, tot liggies goudbruin. Roer gereeld.
3. Gooi in 'n groot bak en voeg 250 ml All Bran-vlokkies, 250 ml growwe klapper en 500 ml gemengde neute by.
4. Verhoog die oondtemperatuur tot 180° C.
5. Voer nog 'n bakplaat met bakpapier en hou eenkant.
6. Verhit 180 ml heuning/stroop, 125 ml olie en 60 ml bruinsuiker saam tot gesmelt en giet dit oor die mengsel in die bak.
7. Werk dit goed deur met jou hande, verdeel tussen die 2 bakplate en versprei egalig.
8. Bak vir 15 minute en roer gereeld.
9. Voeg 250 ml pitlose rosyne by, meng deur en bak vir ± 8 min tot diepgoue kleur.
10. Laat afkoel tot kamertemperatuur en bêre in 'n lugdigte houer. Sit voor saam met jogurt, vars of gestoofde vrugte.
'n Wenk is gegee om 'n klomp batterylaaiers (bv. selfoon, kamera, ens.) netjies te hou deur 'n skoendoos daaroor om te keer in 'n kas en gaatjies vir die drade daardeur te maak. Vervolgens is foto's van blommende bonsai boompies en blomtapyte op 'n rekenaar vertoon ter ondersteuning van Lucia Lieberum se Landbou portefeulje. Lucia het ook vertel van blomme wat as medisyne of in kos gebruik kan word. Sy het verduidelik hoe om roostee te maak, en dat laventelolie goed is in badwater. Leeubekkies, tulpe en koringblomme kan in kos gebruik word; en jasmyn en viooltjies kan as kalmeermiddel werk. Blomme kan langer hou in 'n pot as 'n bietjie bababottel-steriliseerder bygevoeg word, en ook as die pasgesnyde blomme direk in lou water gesit word. 'n Mengsel wat ook in die blomme se water gegooi kan word is 10 ml strooisuiker, 1,25 ml Jik, en 10 ml suurlemoensap op 1 liter water. Ons het gesien hoe lyk en werk organiese wurms! Die grillerige goedjies help om jou kombuisafval (behalwe uie en sitrus) tot kompos te verwerk in maklik hanteerbare plastiese bakke. Een maal per week moet 1 liter water bo-oor die houer gegooi word.
Kuns het voorlesings gereël. Daar is voorgelees oor "Gawie en sy gehawende geheue", asook 'n Engelse brief oor die frustrasie van Vergeet. 'n Gedig oor Bejaardes is voorgelees wat sê dat elkeen wat 'n bejaarde se agteruitgang verstaan, geseënd sal wees. Onder Opvoeding & Kultuur is 'n interessante algemene kennis vasvra gehou. Onder Openbare Sake is vertel van die gevaar daarvan om plastiese bababottels in die mikrogolfoond te verhit. Verhit melk en voedsel eerder in 'n glashouer.
In die Gesondheid-tydgleuf is vertel van 'n kursus oor Doodsbegeleiding wat bygewoon is. Die verskillende fases ná 'n geliefde se dood is bespreek, asook hoe om met só iemand te simpatiseer. Hou ook genoeg afskrifte van jou geliefde se ID - selfs vir jare daarna. Hou genoeg geld in 'n aparte bankrekening, sodat dit jou nie onverhoeds betrap as jou geliefde se rekening ná afsterwe gevries word nie. Prosedure in die geval van 'n sterfgeval by die huis sluit in om die dokter sowel as begrafnisondernemer te ontbied. Die SAP moet ook verifieer dat dit 'n natuurlike sterfgeval was, en 'n doodsertifikaat uitreik. Die testament moet so gou moontlik bekendgemaak word, ingeval daar begrafnisreëlings in voorkom.