Posted on 17 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Christel Viljoen


Met Jongensklip tak se Oktobermaand vergadering, het Marianna Blom van Bredasdorp met ons kom gesels oor die emoe, wat soms verkeerdelik as ‘n klein volstruis beskou word.

 

Alhoewel die emoe ook nie-vlieënd is soos die volstruis, is dit baie kleiner en sy vere lyk heeltemal anders. Die emoe is oorspronklik van Australië, maar kom ook in Amerika voor. In 1994 is die eerste eiers na Suid-Afrika gebring om mee te boer. Die emoe is ‘n baie mak, nuuskierige dier en baie min aggressief. Die voëls pas maklik aan in verskillende klimate.

 

Die emoe word hoofsaaklik vir sy vleis en sy olie gebruik. Hulle voorsien 20 tot 30 pond ysterryke rooivleis wat laag is in vet en cholesterol. Slegs die boud- en nekvleis kan gebruik word en dit proe baie na volstruisvleis.

 

‘n Volwasse emoe lewer 4 tot 5 liter rou olie. Die olie kom slegs op die bokant van die rug en direk onder sy vel voor en word tydens die slagproses uitgesny en dan vakuumverpak. Sodoende word die olie dan uitgepers. Dis ‘n baie natuurlike olie wat anti-inflammatories en hoog in antioksidante is. Dit kan vir vele skete en pyne gebruik word. Dit beveg jig en rumatiek, genees skrape, snye , ekseem, brandboude en brandwonde. Die olie is hoog in Vitamien E en bevat Omega 3, 6, 7 en 9 vetsure.

 

Benewens al hierdie wonderlike feite, is die mees eienaardigste feit dat die voël ‘n grasgroen eier lê wat kompleet nes ‘n avokadopeer lyk! Dis heelwat kleiner as ‘n volstruiseier, maar het ‘n romerige tekstuur en proe meer soos roereier met mayonnaise gemeng, (my groen eier lê nog in die yskas, sal hom maar mettertyd aanpak….). Emoes lê normaalweg tussen 20 en 30 eiers per seisoen.

 

‘n Laaste interessantheid oor die emoe, is dat die mannetjie en wyfie dieselfde lyk, maar uitgeken word aan hulle verskillende geluide. Tydens die hofmaakproses maak die emoe-wyfie ‘n trommel-geluid in haar lugsak. Die mannetjie maak ‘n gromgeluid soos ‘n wildevark. 

 

En dan doen die arme emoe-mannetjie omtrent al die werk as dit kom by die broei en grootmaak van die kuikens – ja nee, die emoe-wyfie lê net eiers tussen Mei en September, en dan moet die mannetjie maar toesien dat sy kroos groot word. Dink nie die emoe-wyfie sou ‘n baie goeie VLV lid uitgemaak het nie, of hoe???

 

 

Marianna Blom.

 

 

 

Die eiers lyk pure advokadopeer.

 

 

 

Emoe-olie en ander produkte.

Comments are closed

Categories