Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Mette Kromhout
Tydens Murraysburg se Kunste en Handvlyt vergadering op 12 Oktober 2011 was Kobie Jeppe van die plaas Gannakraal, Victoria-Wes , die gasspreker en het sy en Anna Berg met groot kundigheid en entoesiasme die lede oortuig dat elkeen kreatief kan wees indien daar net ‘n begin gemaak word.
Kobie het verduidelik dat ‘n collage, soos wat vir die kompetisie vereis word, ‘n driedimensionele voorstelling met ‘n spesifieke tema, gemaak van oorwegend plantmateriaal, is. Sy het ‘n collage met die tema herinnering as voorbeeld gebruik en gedemonstreer dat ander materiale soos botteldeksels, ‘n plat gedrukte blik, knope, plastiek voorwerpe ens. suksesvol gebruik kan word om afwisseling deur tekstuur en kleur te verkry. So het roomyslepeltjies in haar collage aan seevakansies herinner. Elke item wat sy gebruik het, het iets van haar verlede vertel.
As basis kan afvalhout of ou ogiesdraad, drie- of vierdubbel gevou, gebruik word. Die idee is juis dat die collage niks moet kos nie en dat stokkies, takkies, sade, peule, bas, palmkrulle en selfs blomme uit afval-metaalgaas gemaak, gebruik word. Die ontwerp moet vloei en minstens een fokuspunt hê. Goeie beplanning ten opsigte van vorm, verhouding, tekstuur en kleur is nodig en die werk van 40x60cm moet netjies afgewerk word. Die slim gebruik van vorm en kleur skep die illusie van beweging en kreatiwiteit kan vrylik gebruik word. Alle plantmateriaal moet heeltemal droog wees en die voltooide collage moet netjies in ‘n doos, soos die spesifikasies vereis, gemonteer word.
Verskeie van die lede het onder toesig van Kobie en Anna rose van bloudraad en gaas gemaak en die plase sal in die volgende weke gefynkam word vir alle moontlike bruikbare materiaal. Die lede sal hulle kreatiwiteit vrye teuels gee, want Kobie het almal oortuig dat slegs die wil om dit te doen, nodig is.
Sandra Nolte, die uittredende en uiters bekwame Sirkelpresidente was onverwags ‘n spesiale gas. Sy het die tak kom groet en vir die aangename samewerking bedank. Alle lede het groot waardering vir Sandra en wat sy die afgelope jare vir die VLV in die Noord-Karoo beteken het.

Kobie Jeppe en Anna Berg by 'n collage, wat as demonstrasiemateriaal gebruik is.