Posted on 23 October 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum: 18 Oktober 2011

 

Produksies van die Aardklop kunstefees was onder bespreking tydens Vryburg VLV se vergadering. Hester Pretorius en Lorraine Bruwer het hul ervaringe met lede gedeel.

 

Die vertonings wat baie byval gevind het, was Marion Holm in holm@iafrica deur Chris Vorster met stories wat jou laat lag en laat dink en as jy mooi luister, is daar nog ‘n storie agter die storie.

 

Mooi Maria deur Pieter Fourie, die verhaal van ‘n meisie wat mooi was tot die noodlot toegeslaan het, met Isadora Verwey en Neels van Jaarsveld. Mooi Maria is diep ontroerend, maar tipies van Fourie se dramas wissel hy die dramatiese af met komiese oomblikke en getuig sy karakters van ‘n eg menslikheid.

 

Nag, Ma met Sandra Prinsloo en Antoinette Louw hanteer die konflik tussen ma en dogter. Beleef van die mees uitsonderlike ervarings in eietydse teater saam met Jessie, in ‘n verskerpte gemoed van selfmoordeuforie, en haar ma wat veg vir haar dogter se lewe.

 

Janneman met Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel en Hanna Borthwick was ‘n ernstige drama oor die swaar en lekker van die mens se lewe. Dié rolverdeling waarvan ‘n mens net kan droom, vat ons saam op reis deur die lewe van die drie geslagte vroue wat elk besig is om ‘n krisisjaar te trotseer.

 

‘n Aangrypende drama gegrond op die ware verhaal van Ellen Pakkies: ‘n oënskynlik doodgewone vrou van die arm woonbuurt Lavender Hill buite Kaapstad, wat haar seun Adam, ‘n tikverslaafde, vermoor het. Ellen Pakkies is vertolk deur Vinette Ebrahim met Maurice Paige as Adam.

 

Vaselientjie, die verhaal van haar kinderhuislewe met gomgatte, emosionele verwaarlosing, prostitusie, verkragting, dwelms en bendegeweld, is ook deurtrek van menslike humor, romanse en opregte liefde. Vaselinetjie is vertolk deur Andrea Streso, Theodore Jantjies  as die oupa, Ingrid Paulus was ouma.

 

Nataniël se Weeksaand Las Vegas was ‘n bewys van sy sangtalent maar was baie kru vir die meeste in die gehoor.

 

 

Daline Geere, Esta Twigge, Hester Pretorius en Liselet Jacobs was betrokke by die aanbieding van die vergadering.

Comments are closed

Categories