Portefeulje: Openbare Sake en Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Linzetta Smit
Douglas se Oktober vergadering het gehandel oor Nuwe Ontwikkelinge in ons Dorp. Elsie du Toit die Openbare Sake Sameroeper stel Zelda Johnson aan die woord.
Sy is aan die stuur van sake by Outreach, gestig in Mei 2003. Zelda en haar span doen berading onder kinders, van 2 – 18 jaar. Hierdie kinders het reeds op ‘n jong ouderdom TB of Vigs, of tree op as hoof van huishoudings waar een of albei ouers aan TB of Vigs gesterf het. Hulle doen ook gemeenskapswerk in samewerking met Hospice, vanaf 2008.
Zelda het die behoefte gesien aan ‘n Kleuterskool, veral ‘n Gr R-klas. Met geldelike hulp van Eskom en grond geskenk deur die Munisipaliteit van Douglas, word begin met die bou van ‘n enkele klaskamer van 10 x 10 vierkante meter in die Midblok plakkerskamp in Breipaal.
‘n Christen-uitreikgroep, “Eye for Others”, o.l.v. Tom van der Smit en 12 Hollanders begin op 1 Julie 2011 met die bouwerk. Hierdie weldoeners stort 1 000 euro per persoon in die projek. Hulle is verantwoordelik vir die bou en uitleg van die speelparkie. Buurskole en die polisie plant 28 Kareebome op die skoolterrein. ‘n Watertenk is opgerig vir die voorsiening van vars water. Daar bestaan nog geen riolering of elektrisiteit nie. ‘n Groentetuin word aangelê en ‘n nasorgfasiliteit word beplan. Die skool open op 26 Oktober 2011 met 30 kinders en 1 opvoedkundige.
Sus Jansen, die sameroeper vir Landbou stel Alicia van Staden van Blommeland, ‘n plaaslike kwekery aan die woord. Sy vertel meer van haar nuwe projek: Douglas se eie aarbeiplaas.
6 000 aarbeiplantjies is in drie kweekhuise geplant. Sy plant drie soorte, nl. Turpan, Elan en Durben. Turpan is geskik vir konfyt. Aarbeie word eers in saailingbakkies geplant en dan in gaatjies in ‘n seil, wat oor grondwalletjies gegooi word. Aarbeie word 15 – 18 cm uitmekaar in rooigrond en kompos en riviersand geplant. Rooigrond lewer 6 – 18 aarbeie per plantjie elke derde dag. Aarbeie kry twee maal per dag water d.m.v besproeiing uit die kweekhuis se dak. Riviersand is nie ‘n goeie opsie nie, want dit hou nie water nie. Hier moet aarbeie drie maal per dag water kry.
Die plante word gevoed deur organiese voedingstowwe, oplosbaar in water, direk op die plante te spuit. ‘n Kweekhuis lewer tussen vier en agt kilogram aarbeie per dag. Slakke , krieke en dopluis is van die plae en siektes wat aarbeiplantjies kan vernietig. Aarbeiplantjies dra dwarsdeur die jaar en Alicia beplan om by 40 000 plantjies halt te roep!!!!
Die vergadering word afgesluit met ‘n handdoek-vou demonstrasie aangebied deur die voorsitter, en die lede het vlytig saamgevou.