Posted on
30 October 2011
Beriggewer: Petro Spangenberg
Die Dameskring op Kuruman het Belia Lourens genooi om as deel van haar landwye toer, waarvan die vervoer deur Interkaap geborg word, op Kuruman aan te doen. Marda Oosthuizen, voorsitter van Dameskring, het vir die VLV 60 kaartjies gegee om te verkoop en dit het gevlieg!
Belia is van Porterville en is aan baie VLV lede bekend aangesien sy by 'n vorige VLVK kongres opgetree het. Sy is die Sarah Brightman van Suid-Afrika, en toe sy Time to say goodbye sing, het ek verstaan hoekom. Sy is ook bekend vir haar optrede in die Tsotsi-Evangelie uit die pen van Frans van Rensburg. Dit bestaan uit gedeeltes uit Mattheus in Swart-afrikaans en 60 Jesus-gedigte.
Ek het Belia bedank deur 'n aanhaling uit die Dameskring se dagboek voor te lees, "If opportunity doesn't knock, build a door" - Milton Berle. Dit is presies wat sy doen, om brûe te bou en geleenthede te skep om die Blye Boodskap by almal te kry.
Dit was 'n heerlike oggend en 'n goeie idee van twee vroueorganisasies om iets aan te bied wat ‘n mens se siel verryk.

Almal verlustig hulle in Belia se mooi sang.

Marda Oosthuizen, voorsitter van Dameskring en voorheen op die sirkelbestuur van Sirkel Kalahari VLV, bedank Belia vir haar pragtige sang.