Posted on
21 November 2011
Beriggewer: Rina Coreejes
Die Karoo winters is ontsettend koud en dit raak veral die haweloses die ergste. Britstown VLV het gehoor van die Good Night and God Bless slaapsak-projek en het besluit om nou al by die projek betrokke te raak, sodat meer haweloses die komende winter warm kan slaap.
Die Good Night and God Bless slaapsakke is deur Jo Maxwell van die Kaap ontwerp en dit word as ‘n tydelike noodmaatreël gebruik om haweloses warm en droog te hou. Die Rotariërs van Claremont het die plastiek en kleefband geskenk. Volksblad het 300 koerante geskenk en afgelewer in Britstown.
Britstown VLV en Britstown Nightingale Hospice Vrywilligers het Dinsdag 15 November saamgespan om die Good Night and God Bless slaapsakke te maak. Die koerante word eers oopgevou en in lae van 4 aan mekaar vasgekram. Agt van hierdie lae word aan elke kant van een groot duursame en waterdigte plastieksak vasgemaak met kleefband. Hierdie sak word nou binne-in ‘n ander sak geplaas en die bopunt word omgevou en vasgeplak.
Van die slaapsakke is geskenk aan Britstown Nightingale Hospice en die ander gaan aan organisasies in die distrik wat gemoeid is met haweloses.

Britstown VLV saam met Nightingale Hospice Vrywilligers.

Jo De Klee, vrywilliger vanuit Skotland wat tans by Gentlecare uithelp, het ook kom help met die slaapsakke.

Spanwerk is die geheim van die Good Night and God Bless slaapsakke.