Beriggewer: Antionette van Pletzen
Datum: 21 November 2011
Jamestown se VLV was vanjaar op 14 November 80 jaar oud, en dit is feestelik gevier met 'n 5-gang maaltyd berei deur The Pantry op Aliwal-Noord. Groeteboodskappe van die ander takke in ons NOK-Sirkel is voorgelees, en die voorsitter van die Jamestown Landbouvereniging het ook hul groete oorgedra. Elke lid het 'n gegraveerde pen ontvang en die mans het sjokolade gekry - met 'n boekmerkie daarby met Jamestown tak se leuse van "Klein begin - Aanhou win" daarop. Hilda v/d Walt, voorsitter van die tak, het 'n baie kort oorsig gegee van die afgelope 80 jaar se lief en leed, en dis aangevul met van die lede se herinnerings. VLV = volwasse opvoeding, en 'n mens is nooit te oud om te leer nie.
Christell Venter het hulde gebring aan vorige voorsitters, o.a. Mona Nel wat baie diep spore in Jamestown getrap het. Nadat sy 'n geskenk aan Hilda oorhandig het, kon almal stem vir vanjaar se Vonkelvrou, en Lucia Lieberum het die trofee daarvoor ontvang. Lucia het ook die prys ontvang vir die meeste kompetisiepunte deur die jaar, met Gerrie Upton 2de en Philna van Pletzen 3de. Antoinette van Pletzen het haar 30 jaar kenteken ontvang, en Philna van Pletzen het 'n teelepeltjie ontvang omdat sy vanjaar nooit afwesig was by enige vergaderings nie. Christell Venter was vir 17 jaar nooit afwesig nie, en het daarvoor 'n trofee ontvang!

Van links is die pryswenners Philna van Pletzen, Lucia Lieberum (wat ook as Vonkelvrou aangewys is), en Gerrie Upton.

Christell Venter (links) ontvang haar trofee vir 17 jaar nooit afwesig van voorsitter Hilda v/d Walt.

Die pragtige en heerlike verjaardagkoek wat as nagereg bedien is, is gemaak deur die 2 sussies van The Pantry, en het o.a. bestaan uit roomys en sjokolademousse, en was versier met suikerdrade.

Drie lede kon a.g.v. siekte nie teenwoordig wees nie. Die res is van links:
Voor - San Wagenaar, Hilda v/d Walt, Philna van Pletzen, Gerrie Upton, Antoinette van Pletzen.
Middel - Willie Wagenaar, Poen van Pletzen, Giel v/d Walt, Jan J van Pletzen, Hendrik Upton, Jannie van Pletzen.
Agter - Mariana van Pletzen, Lucia Lieberum, Christell Venter, Ferdie van Zyl, Handri van Zyl.