Posted on
06 December 2011
Tak: Hantam
Portefeulje: Gesondheid
Saamroeper: Louise Brynard
Datum: 5 Desember 2011
Beriggewer: Janine Brynard
Daar duik gereeld nuus op van iemand wat moeilikheid opgetel het met chroniese voorgeskrewe medikasie. Veral as dit op lang termyn gebruik is. Met soveel verwarrende, dubbelsinnige antwoorde, weet mens nie wie om te glo nie. Gelukkig het ons op Calvinia die voorreg om 'n uitgebreide en goéie multi dissiplinêre span te hê wat bereid is om hierdie kwelpuntjies uit die weg te probeer ruim. Een belangrike én baie gewilde skakel in hierdie ketting is suster Sylvia (soos wat sy al oral bekendstaan). Behalwe tuisverpleging, voor- en nageboortelike- en babasorg, rehabilitasie en fisioterapie van pasiënte met breinbeserings en nutrisie, onder andere, kan sy met gesag inligting gee oor die uitwerking van chroniese en ander medikasie op die menslike liggaam.
Ons liggame verander binne én buite namate ons ouer word. Algemeen is die lewer en niere se werking in uitskeidingsvermoë wat afneem. Daarbenewens het sommige medikasie 'n versterkte uitwerking op die bejaarde liggaam, veral sekere hart-, water- en bloeddrukpille. Dis die rede waarom feitlik geen dokter meer 'n chroniese voorskrif sal hernu sonder 'n opvolgondersoek om vas te stel watter aanpassings in die behandeling van 'n spesifieke toestand gemaak moet word nie.
Dis eweneens van kardinale belang om veral 'n chroniese pil toegewyd op die korrekte voorgeskrewe tyd te drink om maksimaal voordeel daaruit te put en 'n ongewenste reaksie in toksiese newe-effekte te vermy. Daar is 'n doel en plek vir chroniese medikasie in vandag se lewe, maar omsigtigheid is die wagwoord.

Suster Sylvia van Schalkwyk bied vir meer as 3 jaar alreeds 'n unieke en gespesialiseerde gesondheidsorgdiens aan die inwoners van Calvinia. Met haar wye reeks behandelings en dienste het sy diep in ons harte en vertroue gekruip en maak sy 'n integrale deel uit van die mediese multi-dissiplinêre span.