Posted on 08 September 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Colesberg
Portefeulje: Landbou en Tuinbou en Openbare Sake
Beriggewer: Marié Botha
Datam: 7 September 2012

 

Aangesien herwinning en rommel ‘n baie aktuele aangeleentheid is, het ons tak by ons jongste vergadering die Omgewingsbestuurder van ons plaaslike Munisipaliteit as spreker genooi. 

 

Me Pumzile Madliwa het verduidelik dat die Munisipaliteit verantwoordelik is vir die verwydering en bestuur van alle rommel. Daar is verskillende soorte rommel, bv. huishoudelike afval, chemiese afval, mediese afval en industriële afval. 

 

Rommel word weekliks formeel verwyder, maar die ongereguleerde storting van rommel op enige oop terrein hou ‘n gesondheidsrisiko in. Die probleem is blykbaar dat plaaslike wetgewing nie voorsiening maak vir die beheer en toegang na die stortingsterrein nie. Die stortingsterrein word nie goed bestuur nie en die rommel is onbedek. Daar is geen heining of ‘n hek wat kan toesluit nie. Die rommel word gereeld verbrand aangesien daar nie ‘n ander manier is om dit te verwerk nie. Geen privaat organisasies is geregistreer om te help met herwinning nie, so geen fondse of toerusting kan beskikbaar gestel word nie.

 

Ons tak het versoek dat die moontlikheid ondersoek word om ‘n houer in die dorp te plaas vir die herwinning van glas. Me Madliwa het onderneem om die saak aan die Munisipaliteit voor te lê.

 

Colesberg is op die oomblik omring deur padwerke en ons sien daagliks hoe daar gevorder word met die bou van brûe en nuwe paaie rondom ons dorp.  Mnr. Jan Bierman, ingenieur op die padprojek, het ons takvergadering toegespreek oor hierdie bedrywighede. Die hele projek is teen ‘n koste van nagenoeg R30 miljoen aangepak en die finale voltooiing behoort teen April 2014 afgehandel te wees. Daar word twee brûe oor die N1 gebou en die N9 vanaf Colesberg na Noupoort word oorgebou en breër gemaak. Interseksies met afdraaibane na die plaaspaaie is by die beplanning ingesluit. Na die voltooiing van die projek behoort hierdie pad baie veiliger te wees en die brûe oor die N1 behoort baie ongelukke uit te skakel. Dit is ‘n reuse projek waar 300 000 ton klip uitgehaal en fyngemaak is vir die bou van die paaie en brûe. Dit was baie insiggewend om te verneem presies hoe die planne inmekaarsteek en hoe die eindproduk sal lyk.

 

 

Me Pumzile Madliwa van die Umsobomvu Munisipaliteit op Colesberg spreek die vergadering toe.

 

 

Takvoorsitter, Juanita du Plessis, en Openbare Sake saamroeper, Emerentia Pretorius, by mnr. Jan Bierman, ingenieur betrokke by die padprojek by Colesberg.  Op die agtergrond kan 'n kaart van die nuwe ontwikkelings gesien word.

Comments are closed

Categories