Posted on 04 October 2012

Sirkel:  Weskus
Tak: Langebaan
Studierigting:  Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Estelle Du Plessis
Datum: 3 Oktober 2012


Die lede het baie mooi gelyk, sommige aangetrek soos “toeka” met handskoene en rokke uit die vyftigerjare.  Ander was aangetrek in die nuuste  pastelkleure en die vrolike bontklere  het die somermode onderskryf.


Die vergadering is geopen deur Ina Bezuidenhout wat die vlg. aan ons voorgehou het:


Die tema van die vergadering vandag is van “Toeka tot nou”  dis aan al die kinders  wat die tydperk van 1930 tot 1970 oorleef het.


As kleuters kon ons in karre ry sonder veiligheidsgordels en lugsakke.  Om agter op ‘n bakkie te ry was vet pret.  Ons het water uit die tuinslang gedrink – nie uit bottels nie.  Ons het een koeldrank met vier vriende gedeel en niemand is dood aan kieme nie.  Ons het sjokoladekoek en witbrood geëet met regte botter en “Koolaid” met baie suiker aangemaak, maar niemand was vet nie, want ons het van die môre tot die aand buite gespeel en kaskarre gebou sonder brieke.  As ons in die bosse ingejaag het, het ons geleer om die probleem self op te los.  Dogtertjies het hulle rokkies in hul broekies gesteek om ook in die pret te deel en niemand het iets daarvan gedink nie – seksuele molestering en tienerswangerskappe was nooit van gehoor nie.


Daar was nie dwelms nie, want ons ouers het genoeg vir ons omgegee om ons boude warm te klits i.p.v. ons na ‘n sielkundige toe te neem.  Sakgeld was iets wat net die staatspresident van geweet het.  Sondae het ons kerk toe gegaan – géén verskonings nie.  Daar het ons geleer van liefde en respek en om God te vertrou en dat ons monde met seep uitgewas sal word as ons vloek of teëpraat.


Ons het nie selfone, i-pads, videospeletjies, “playstations” of “chatrooms” gehad nie, nee ons het vriende gehad.


As jy een van hierdie kinders is – baie geluk dat jy dit oorleef het en vertel vir jou kinders hiervan dat kan weet hoe dapper en gelukkig hul ouers was.


Corrie Strydom, wat ingeskryf het vir die “Boer soek ‘n vrou” – kompetisie, het ‘n paar pragtige liedjies gesing o.a. een wat sy spesiaal vir die vergadering geskryf het.


Van die lede het volkspele gespeel en die vergadering het lekker saamgesing, heerlike herinnering aan “toeka”!  Daarna het 3 van die lede “line dancing” gedoen, ‘n baie goeie uitbeelding van “nou”!


Dit was ‘n kleurvolle vergadering met pragtige rokke van “toeka” wat uitgestal was en baie mooi blomme het die saal versier.  Lede het die heerlike verversings baie geniet!

 


Lede voer hulle "line dancing" uit.

 

 

Anet Tolken uit toeka se dae!


 

Corrie Strydom - van Boer soek 'n Vrou faam!

 

 

Lede speel volkspele.

Comments are closed

Categories